Ons maak self huis skoon, en dis nie vir sissies nie

Martin en ek en ons drie kinders maak self ons huis skoon. Ons het nie hulp nie.

‘n Dekade gelede sou dit baie vreemd gewees het vir ‘n middelklas wit familie om self in die huis te werk. Ek het al vertel hoe ek na matriek die eerste keer vloer gewas het. Skoonmaak (en veral hoe die bediende nie daarin slaag nie) was in die ou dae ‘n ding waaroor Ma met Tannie Martie oor die muur staan en gesels het. Niemand anders in die huis het tweemaal daaraan gedink nie…(behalwe natuurlik as die bediende die dag nie opgedaag het nie!)

Maar gelukkig het die lewe ‘n manier om mens wakker te skud. My twee sussies was o, so verontwaardig jare gelede toe hulle in Skotland ‘n gapjaar gaan vat, en ‘n ander tiener se bed moes opmaak! Terwyl genoemde tiener haarself voor die TV uitvlei, moes my sus nederig vra dat sy haar bene optel sodat sy die mat kon suig. Volle sirkel.

Ek kry die gevoel dat al hoe meer Suid-Afrikaanse gesinne vandag ‘kies’ om self skoon te maak.

My oudste maak die stoof skoon

Óns kies dit beslis nie omdat ons wil snaaks wees of omdat ons so mal is oor huisskoonmaak nie, hoor! Ons het ander redes.

Sizakele was die beste

Sizakele was deel van die gesin.

 

Sy was skaam maar uiters betroubaar.

Vir jare het ons die beste huishulp op aarde gehad. Sizakele se hand het vir niks verkeerd gestaan nie. Sy was my kinders se mamcane. En my beste vriendin – nie net omdat sy my so ongelooflik gehelp het in die huis en my werk by die skool moontlik gemaak het nie, maar ook omdat sy so baie goed soos ek gesien het. Maar met ons groot omwenteling byna twee jaar gelede, moes ons Sizakele groet. Oor die trane wil ek nie hier praat nie. Se maar net daar was geen lus in my om ‘n nuwe huishulp te soek nie. Niemand kon haar ooit ‘vervang’ nie, het ons gevoel.

Ook kan ons eintlik nie ‘n huishulp bekostig nie. Enigeen wat wetsgehoorsaam wil wees en ‘n gemiddelde inkomste het, sal weet wat ek bedoel.

Ons wil ons kinders iets leer

En ons wil graag ons kinders leer om verantwoordelikheid te neem vir hulle eie gemorse. ‘n Mens leef nogal anders as jy weet jy gaan self skoonmaak waar jy vuilgemaak het. Jy drink jou tweede koffie uit net-nou se koppie, en koop minder ‘stuff’ wat rondsit en afgestof moet word. Self skoonmaak dwing jou om te dink oor wat jy doen, en ons hou daarvan.

Laastens voel ons sterk daaroor dat skoonmaak ‘n vaardigheid is wat mens eendag op ‘n heel konkrete manier kan help.

  • Dit kan jou gemoed oplig. ‘n Opgemaakte bed is belangriker vir ‘n suksesvolle dag as wat mens besef. Om soggens in ‘n skoon kombuis in te stap gee jou sommer krag vir die dag.
  • Dit kan jou geld spaar. Jou huis moet skoongemaak word. As jy dit self doen, kan jy die geld op ‘n motorpaaiement spandeer!
  • Dit kan selfs vir jou geld inbring, as jy daarvan n besigheid maak. Ons lewe van mattewas en seep verkoop!

En dis nie vir sissies nie

Dit het maande geneem om gewoond te raak daaraan dat Sizakele nie meer ongemerk alles gaan regmaak wat in die huis verkeerd staan nie. Om te besef, ‘the buck stops here’. Daar is eenvoudig geen engel meer nie. As ek die besmeerde eierpan van ontbyt op die stoof los om ‘n klient se oproep te antwoord, bly hy daar tot vanmiddag 13:00 wanneer ek weer in die kombuis instorm om ‘n volgende ete reg te kry. Ek kon die wasgoed nog skoon kry, maar gestryk? Chaos loer gedurig om die hoekie.

Hoe ons kop bo water hou, vertel ek volgende keer.

Hoe werk mikrobes vir skoonmaak?

So onlangs as 150 jaar gelede het Joseph Lister eendag voorgestel dat dokters hulle hande moet was en instrumente moet steriliseer voor operasies. Die skoner teatertoestande het daartoe gelei dat prosedures oneindig suksesvoller was as voorheen. Skielik het mense verstaan hoe belangrik higiëne is. Vandag nog word gereelde was van hande ’n baie belangrike aspek van gesondbly gereken.

Alle bakterieë skadelik?

Maar êrens het ons alle bakterieë as ‘skadelik’ begin aanskou. Oormatige gebruik van anti-bakteriële middels uitwendig, en antibiotika inwendig, het wel aansteeklike siektes laat minder word, maar nou sit ons met allergieë en outo-immuunsiektes en wonder hoekom. Nuwe navorsing dui al hoe meer op hoe voordelig meeste bakterieë regtig is, en hoe kompleks jou verhouding met jou eie mikrobioom is.

Wat is bakterieë eintlik?

Bakterieë is eintlik mos eensellige fabrieke. Hulle gebruik die boustowwe wat hulle in hulle omgewing vind, om allerhande nuttige samestellings te vervaardig. Ons gebruik reeds bakterieë om goed soos antibiotika, vitamines, proteïene, inentings en ensieme vir ons te vervaardig.

Afval word ook baie doeltreffend deur bakterieë afgebreek. Wanneer ’n besoedelde area deur mikrobes herstel word, word dit bioremediëring genoem. Miskien het jy al gelees van groot olie-stortings soos die Exxon Valdez (wat 380 miljoen liter olie in die see gestort het), of die Deepwater Horizon boor (wat 800 miljoen liter olie gelek het). Omdat ru-olie ín die natuur voorkom en soms in die see inlek deur die seebodem, is daar reeds bakterieë in die see wat die koolwaterstowwe in ru-olie, kan verteer. Wat opruimwerkers moes doen, was om hierdie bakterieë se getalle groter te maak deur nog daarvan in die see te spuit. Dit word biologiese aanvulling genoem.

Inheemse bacillusbakterieë

Hier in Suid-Afrika is daar al meer as ’n dekade gelede besef dat bakterieë wat behoort tot die bacillus genus, baie nuttig aangewend kan word. Bacillus bakterieë is staafvormige, aerobiese bakterieë wat spore vorm. Die spore is bestand teen hitte, koue, bestraling en uitdroging asook ontsmettingsmiddels. Dit beteken hulle is nuttig as aktiewe agente in skoonmaakmiddels.

Beide die beginsels van bioremediëring en biologiese aanvulling word ingespan. Kom ons dink aan ’n stortvloer. Die goeie bacillusbakterieë is klaar teenwoordig op jou stortvloer. Jy kan dit nie help nie en dit beteken nie jy is vuil nie. Hulle is daar omdat bakterieë oral is en omdat daar vir hulle kos is. In plaas daarvan om daarteen te stry en jou stort steriel te probeer kry (onmoontlik, want die lug is ook vol bakterieë; onnodig, want dis nie skadelik vir jou nie!), kan jy die beginsel van biologiese aanvulling toepas. Gebruik ’n skoonmaakmiddel wat die populasie aanvul!

As jy jou stortvloer met SURFACE skoonmaak, is jy besig om die goeie bakteriee aan te vul.

Laat die bakterieë skoonmaak

Só werk dit: ’n Hele paar miljoen bacillusspore is in die skoonmaakmiddel wat jy op die stortvloer spuit. Binne minute kan die spoor begin ontkiem. As die toestande gunstig is, leef die bakterieë en begin vermeerder. Die eerste ding wat die bakterieë doen, is om reuke te bestry. Omdat hulle dadelik begin vermeerder, kompeteer hulle vir spasie en woel en wemel letterlik die skadelike bakterieë uit die pad. Die bakterieë begin ook dadelik ensieme produseer wat die afval wat op die stortvloer is, afbreek sodat hulle dit kan eet. Wanneer die stort weer gebruik word, spoel die bakterieë in die septiese tenk in, waar dit vaste stowwe begin verteer. Dit beteken die tenk word stadiger vol en daar is minder blokkasies.

Die bakteriee hou jou lappie en spons reukvry.

Gestel jy gebruik nie ’n septiese tenk nie, maar spoel die water weg. Die bakterieë gaan al die pad tot by die watersuiweringswerke voort om nitriete en nitrate uit die water te haal. So vind bioremediëring van die stortvloer en die water plaas. Alles word algaande al hoe skoner, en sodra die bakterieë se kos op is, sterf hulle.

Hou in gedagte

’n Paar dinge moet ingedagte gehou word as jy oorskakel na hierdie manier van skoonmaak. Natuurlik moet daar sekergemaak word die bakterieë in die seep is inderdaad vriendelik en nie patogenies nie. Dit kan nie in ’n komposgat gekweek word nie – dit moet in ’n laboratorium gekweek word en noukeurig nagegaan word vir siekte. Dit maak ook sin om inheemse bakterieë te gebruik eerder as ingevoerde bakterieë. Verder kan niks wat homself anti-septies noem, saam met sulke skoonmaakmiddels gebruik word nie. Dink aan JIK. As jy biologies wil skoonmaak, is JIK nie meer deel van jou arsenaal nie, want dit maak al die bakterieë in jou seep dood en die doeltreffendheid is daarmee heen. Bleikmiddels is bowendien sleg vir die omgewing so dis nie regtig skade om dit opsy te sit nie. En soos met alle natuurlike oplossings, vat dit langer om te werk. Die bakterieë het tyd nodig. Hoe meer jy die populasie aanvul, hoe vinniger raak die proses, maar aanvanklik gebeur dinge nie oornag nie.

Dis natuurlik en intelligent

Die voordele van hierdie manier van skoonmaak is maklik om raak te sien. Dit boots die natuur na; span die lewe wat daar reeds is, in om vir ons te werk. Minder chemikalieë is nodig. ’n Bietjie surfaktant om die water natter te maak is amper al wat nodig is – die bakterieë doen die res. Dis ’n intelligente manier van skoonmaak – die bakterieë ontleed die omgewing en produseer die regte hoeveelheid van die regte ensieme om alles te verteer.

Verantwoordelik. Intelligent. Veilig.

Ons  reeks skoonmaakmiddels word in top laboratoriums hier in Pretoria vervaardig. Alle bakterieë is inheems, spesifiek uitgekies vir die toepassing, en silwerskoon. Dis hoekom ons onsself graag verantwoordelik, intelligent en veilig noem.

Het jy al ooit biologies skoongemaak? Wat was jou ondervinding?