Ses Nommer-Nipper Aanlyn Geskenkidees

Hoekom ek ‘n lysie  van nommer nipper geskenkidees moes maak

Ek is altyd laat. Ek besef dis erg. Dis verskriklik. Dit wys vir ander jy respekteer nie hulle tyd nie. Dit maak jou man kwaad. Dit maak dat jy altyd ‘n bietjie windverwaaid op ‘n plek aankom. Dis aaklig.

Maar jy kry darem daai laaste bondel wasgoed in die masjien…

Ek moes veertig word voor ek kon verstaan hoekom ek altyd laat is: ek haat rondsit. Jy wat my ken sal weet ek hou van doeltreffendheid (efficiency, man). Om tien minute in die teater te sit en wag vir die konsert, is super ondoeltreffend (so loop die gesprek onbewus in my kop). Dis sieldodend. Jy kry niks uitgerig nie, en dit terwyl die huis wat jy so lank gelede agtergelaat het, op sy kop staan. Jy kon net sowel tien minute later gery het en nog ‘n bietjie skoongemaak het! So daarom maak ek nog ‘n bietjie skoon, ry vyftien minute later en kom laat aan. Elke. Liewe. Keer. Daar ken jy nou een van my groot karakterfoute.

Alweer laat

So hier is ons, drie slapies voor Oukersaand en vier slapies voor Kersdag. En ek het nog nie geskenke vir almal nie. Ek is laat.

In plaas daarvan om by Crazy Store in te storm, het ek aanlyn rondgesnuffel vir geskenke wat onmiddelik opdaag. Die wonderlike ding van kitsaanlyngeskenke is dat dit gewoonlik nul vullis is (zero waste, man).

En omdat ek nie kan glo dat ek die enigste een is wat laat is nie, deel ek graag my vondse met jou. Terloops, niemand betaal my niks hiervoor nie.

Ses nommer nipper geskenkidees wat sommer ook nul vullis is

1. Teken haar in op ‘n lekker tydskrif

Wie hou nie daarvan om op die rusbank/langs die swembad te le met ‘n pragtige tydskrif nie? Betaal die intekenfooi namens jou vriendin en siedaar! Jou Kersgeskenk word elke maand afgelaai by jou vriendin se huis, en sy sal ‘n jaar lank dankbaar wees. As jy regtig ernstig is oor nul vullis kan jy natuurlik ook die digitale weergawe kies. Vir tussen R360 (digitale weergawe) en R480 (drukweergawe) kan jy ‘n tydskrif uitkies waarvan sy sal hou. Ons is mal oor Weg! Platteland. En hierdie maand se somerkersfeesartikel in LIG was pragtig (plus hulle gee tans 40% afslag op die intekenfooi).

2. Maak haar ‘n Friend of the National Zoo

Pretoria het ‘n fantastiese dieretuin. Ons kinders kan nie genoeg kry van die dieretuin nie. Dit is reusagtig, dis oud, en elke keer wat ‘n mens gaan is die atmosfeer anders omdat dit buite is. As jy vir ‘n spesiale kind (R125) of selfs ‘n gesinnetjie (R300) betaal om Friends of the National Zoo te word, kry hulle afslag op die gereelde Fun Walks wat ‘n 5km vroegoggendstappie deur die dieretuin is. Hulle kan ook tweemaal verniet ingaan by die dieretuin! Gee ‘n ervaring eerder as ‘n ding. En watter beter ervaring as die dieretuin?

3. Koop haar ‘n Wild Card

As jou vriendin nie in Pretoria woon nie of die dieretuin nou al genoeg gesien het, kan jy die ervaring wat jy gee aansienlik opgradeer na ‘n Wild Card. Dis nou ‘n geskenk. Dis beslis die goedkoopste manier om Suid-Afrika se fantastiese parke te verken. Jy sal vir tussen R640 en R1300 regkom, afhangende van watter kluster jy kies en of dit vir een mens, ‘n paartjie of ‘n gesinnetjie is. Jou vriendin sal vir ‘n jaar alle deelnemende parke in die kluster verniet kan besoek as dagbesoeker. Sy sal boon-op afslag kry op verblyf, ingeteken word vir die WILD tydskrif en verwittig word van eksklusiewe promosies en kompetisies.

Kyk net hoe baie parke het ons eintlik in Suid-Afrika!
Wild Card klusters
4. Sluit haar aan by die Botanical Society

Hoekom?! vra jy.  Sodat sy vir die hele jaar verniet by al tien SANBI Nasionale Botaniese Tuine in Suid-Afrika kan ingaan! Ja, ons het tien Nasionale Botaniese Tuine: Kirstenbosch (Kaapstad), Harold Porter (Bettiesbaai), Karoo Desert (Worcester), KwaZulu-Natal (Pietermaritzburg), Vrystaat (Bloemfontein), Laeveld (Nelspruit), Pretoria, Hantam (Nieuwoudtville), Walter Sisulu (Krugersdorp) en Kwalera (Oos-Kaap). Ons gesin sou ons elke Sondag op Pretoria se Botaniese Tuine se grasperk gaan neervly het as dit nie geld gekos het nie. Om van die broeipaar witkruisarende by Walter Sisulu nie te praat nie! Vir tussen R500 en R900 (afhangende van enkel- of gesinslidmaatskap) kan jou vriendin vir een jaar enige tyd verniet ingaan by enige tuin, en sy sal ook ingeteken word op die oulike tydskrif Veld & Flora.

5. Koop haar ‘n geskenkaart

Ek sal altyd ‘n iTunes geskenkkaart met ope arms verwelkom! Jy kan boeke, films, musiek of apps koop. Hoe nul vullis is dit? Hoe luuks? En hoe kits?! Gaan na jou iTunes account, kies die Store tab regs bo (as jy dit van die desk top af doen) of die Send Gift knoppie heel, heel onder (as jy dit van die iTunes app op jou foon doen). Vul jou vriendin se eposadres in, skryf ‘n boodskap en kies ‘n bedrag!

Kies die store tab regs bo en jy kry hierdie skerm.
iTunes op my desktop

En dan moet ek darem ook ons eie Mrs Martin’s gift cards noem want miskien weet jy nie eers dat jy intelligente, verantwoordelike, veilige seep aan jou vriendin per epos kan stuur nie!!

Geseende Kersfees!

Ek hoop jy geniet jou aanlyn inkopies. En nog meer as dit: geniet ‘n rustige, geseende Kersfees.