Martin en ek en ons drie kinders maak self ons huis skoon. Ons het nie hulp nie.

‘n Dekade gelede sou dit baie vreemd gewees het vir ‘n middelklas wit familie om self in die huis te werk. Ek het al vertel hoe ek na matriek die eerste keer vloer gewas het. Skoonmaak (en veral hoe die bediende nie daarin slaag nie) was in die ou dae ‘n ding waaroor Ma met Tannie Martie oor die muur staan en gesels het. Niemand anders in die huis het tweemaal daaraan gedink nie…(behalwe natuurlik as die bediende die dag nie opgedaag het nie!)

Maar gelukkig het die lewe ‘n manier om mens wakker te skud. My twee sussies was o, so verontwaardig jare gelede toe hulle in Skotland ‘n gapjaar gaan vat, en ‘n ander tiener se bed moes opmaak! Terwyl genoemde tiener haarself voor die TV uitvlei, moes my sus nederig vra dat sy haar bene optel sodat sy die mat kon suig. Volle sirkel.

Ek kry die gevoel dat al hoe meer Suid-Afrikaanse gesinne vandag ‘kies’ om self skoon te maak.

My oudste maak die stoof skoon

Óns kies dit beslis nie omdat ons wil snaaks wees of omdat ons so mal is oor huisskoonmaak nie, hoor! Ons het ander redes.

Sizakele was die beste

Sizakele was deel van die gesin.

 

Sy was skaam maar uiters betroubaar.

Vir jare het ons die beste huishulp op aarde gehad. Sizakele se hand het vir niks verkeerd gestaan nie. Sy was my kinders se mamcane. En my beste vriendin – nie net omdat sy my so ongelooflik gehelp het in die huis en my werk by die skool moontlik gemaak het nie, maar ook omdat sy so baie goed soos ek gesien het. Maar met ons groot omwenteling byna twee jaar gelede, moes ons Sizakele groet. Oor die trane wil ek nie hier praat nie. Se maar net daar was geen lus in my om ‘n nuwe huishulp te soek nie. Niemand kon haar ooit ‘vervang’ nie, het ons gevoel.

Ook kan ons eintlik nie ‘n huishulp bekostig nie. Enigeen wat wetsgehoorsaam wil wees en ‘n gemiddelde inkomste het, sal weet wat ek bedoel.

Ons wil ons kinders iets leer

En ons wil graag ons kinders leer om verantwoordelikheid te neem vir hulle eie gemorse. ‘n Mens leef nogal anders as jy weet jy gaan self skoonmaak waar jy vuilgemaak het. Jy drink jou tweede koffie uit net-nou se koppie, en koop minder ‘stuff’ wat rondsit en afgestof moet word. Self skoonmaak dwing jou om te dink oor wat jy doen, en ons hou daarvan.

Laastens voel ons sterk daaroor dat skoonmaak ‘n vaardigheid is wat mens eendag op ‘n heel konkrete manier kan help.

  • Dit kan jou gemoed oplig. ‘n Opgemaakte bed is belangriker vir ‘n suksesvolle dag as wat mens besef. Om soggens in ‘n skoon kombuis in te stap gee jou sommer krag vir die dag.
  • Dit kan jou geld spaar. Jou huis moet skoongemaak word. As jy dit self doen, kan jy die geld op ‘n motorpaaiement spandeer!
  • Dit kan selfs vir jou geld inbring, as jy daarvan n besigheid maak. Ons lewe van mattewas en seep verkoop!

En dis nie vir sissies nie

Dit het maande geneem om gewoond te raak daaraan dat Sizakele nie meer ongemerk alles gaan regmaak wat in die huis verkeerd staan nie. Om te besef, ‘the buck stops here’. Daar is eenvoudig geen engel meer nie. As ek die besmeerde eierpan van ontbyt op die stoof los om ‘n klient se oproep te antwoord, bly hy daar tot vanmiddag 13:00 wanneer ek weer in die kombuis instorm om ‘n volgende ete reg te kry. Ek kon die wasgoed nog skoon kry, maar gestryk? Chaos loer gedurig om die hoekie.

Hoe ons kop bo water hou, vertel ek volgende keer.

Recommended Posts